My Susan was voorwaar n baie spesiale mens.Ek was so lief vir die mensie,want sy was net altyd daar vir My en haar kinders.Om drie seuns groot te kry is nie maklik nie,maar sy het met haar liefdevolle hart ons almal geliefd laat voel.Nooit gekla nie,altyd reg vir a kuier.Ons seuns en hulle vriende was altyd welkom .Die liefde en verhoudings wat sy met ons skoondogters en ons kleinkinders gehad het kom vanuit n Jesus hart.Dit het sy ook uitgeleef in haar aantrek ,kosmaak ,blomtuin ,liefde vir diere en so baie vriende en vriendinne.Ek eer haar as my baie beter helfte en mis haar alreeds.Dankie dankie Susan vir 49 wonderlike jare saam met jou.
Piet
Liewe ouma Nelspruit😔Ek gaan jou baie mis maar ek is baie bly dat jy nou ontslae is van die aaklige kanker en ons weet jy is nou baie gelukkig in die hemel met Jesus.🤗Ons almal se harte is baie seer maar weet ouma is in n beter plek🌅Ouma se lyf is weer mooi en gesond en ouma is by al die engele. Jesus het ‘n perfekte plekkie daar bo in die heumel vir jou❤Ek kan nie wag om vir ouma in die hemel te sien nie. Ek is so dankbaar vir die 12 jaar wat ek saam ouma kon lewe🥰BESTE 12 jaar van my lewe❤Maar ongelukkig moet alles tot ‘n einde kom🥲Baai ouma🕊Vlieg hoog en weet ons kyk na ouma in die hemel🥹Ouma se begrafnis gaan nie ń hartseer een wees nie, maar n viering van ouma se lewe.🥂Lief vir jou ouma, sien jou in die hemel🌅💛……RIP🪦🕊
Liewe ouma
Ons sal altyd ouma se lag onthou en hoe ouma ons altyd bederf het met geskenkie. Ons weet ouma is baie gelukkig by Liewe Jesus, maar ons mis ouma klaar vreeslik baie.
Ons belowe ons sal mooi na oupa en hom net so baie bederf soos wat ouma ons altyd bederf het.
Baie lief vir ouma! ❤❤❤
Tab Content
Die hartseerste dag het aangebreek! Hoe groet mens jou geliefde en spesiale suster! Al is my hart broos en my emosies hardloop weg met my is ek dankbaar vir die laaste 5 jaar wat ek jou leed en lyding met jou kon deel! Die spesiale tye saam met jou en jou familie sal ek altyd in my hart koester! Jou helder en vrolike lag is nou still vir altyd! Jy laat ń ongelooflike gaping in ons lewe. Jy is die persoon waarom alles gedraai het! Dankie Susan vir ongelooflike tye saam. Ek gaan jou vreeslik mis. Die kuier stoep gaan kleurloos en stil wees sonder jou. Ek sal jou onthou in elke plantjie in jou tuin en elke hoekie in jou huis! Rus in vrede my pragtige omgee sussie!
Dit was seker die moeilikste ding wat ek in my lewe moes doen
Om vir ma totsiens te sê.
Dankie dat ma my van die begin af soos ma se eie dogter behandel het.
Dankie dat ons saam kon lag en huil. Vir ‘n beter skoonma kon ek nie vra.
Dankie dat ma my man gemaak het wie hy vandag is.
Ek is ewig dankbaar vir die 23 jaar wat ma deel van my lewe is.
Daar is ‘n stukkie van my hart weg die oomblik toe ma ma se laaste asem uitgeblaas het.
Sien ma weer in God se pragtige blomtuin!
Eloise
Ma wat n vooreg om een van ma se skoondogters te kon wees. Wat n lang pad saam het ons nie gehad nie. Saam gelag, saam gehuil. Al die stoep stories. Al die trippies wat ons almal saam gedoen het. Ma se lag sal ek nooit vergeet nie, ma se gasvryheid en liefde!! Die Here ma nou kom haal om sy tuin te gaan mooi maak. Ons gaan ma baie mis, maar nou kan ma rus. Sonder pyn. Baie lief vir Ma. Cecile
3 FEBRUARIE 2025
SUSAN MEYER
Liewe Piet
Maar ook Driaan, Cecile en kleingoed; Calla, Eloise en kleingoed; Pieta, Savitri en kleingoed; Hester, Andries en Martie asook res van die familie.
Namens die Grobler gesin wil ek sê:
Vandag is ons woorde min maar ons meegevoel innig! Ons wens ons kon die hartseer minder maak en julle las verlig. Ons ken julle hartseer en pyn maar ons het nie woorde om dit te sê nie. Ek wil net hê dat jy moet weet ons sal altyd daar wees vir jou en jou gesin en familie. Julle is wonderlike mense en ons is so bevoorreg om julle in ons lewens te mag hê.
Dankie Here vir een van die kortste maar ook aangrypendste verse in die Bybel:
”Jesus het gehuil”
Dankie dat U ook spontaan in trane kon uitbars by die dood van ‘n geliefde vriend want dit sê ook vir ons dat diep emosies nie verkeerd is nie.
Mag God waardigheid aan julle hartseer gee en julle vrede vind in God se Genade en in die berg brandhout met mooi herinneringe wat julle bymekaar gemaak het oor die jare.
Mamma Susan was baie lief en trots op elkeen van julle … haar kinders! Van die kleinkinders het sy altyd gepraat en was trots op elkeen se prestasies.
Hester vir jou was sy baie lief en jy weet wat het jy vir haar beteken veral in die laaste jaar.
Susan, stil het jy ons verlaat maar ons herrineringe aan jou sal ewig bly.
Die laaste twee weke in die hospital was maar baie sleg maar in al die jare het ek haar nooit hoor kla. Nooit was sy negatief maar het ‘n rustige aanvaarding van haar toestand gehad en elke dag met nuwe moed die uitdagings aanvaar.
Wie kan ooit Susan se LEKKER LAG…. so diep uit haar maag vergeet! al is die grap nie eers so groot. Sanna was ‘n sprankelende persoon vol liefde en altyd daar as ‘n vriendin en staatmaker. Sy het ons harder laat lag, groter laat glimlag. Mense met liefde en respek behandel. Susan was ‘n inspirasie vir elke dag.
Haar huis en warm hart was altyd oop vir almal en haar gesig het altyd opgevrolik as sy jou groet met ‘n ondeunde vonkel in haar oë. Sy het ook heerlik gebak en brou en dit was lekker om by hulle te kuier en te eet. Saam was sy en Piet ‘n wen kombinasie
Wie sal OOIT haar stoepkuiers kan vergeet! Pieta as jy dit regkry om 12 tot 14 vrouens op daai stoep bymekaar te kry om so lekker wyn te drink, lag en te gesels, sal jy baie bevoorreg wees en verdien jy beslis ‘n medalje! Ek dink ons moet die stoep herdoop na: ”Susan/Sanna se Stoep”
Susan het nie net bestaan nie, SY HET GELEWE! Sy het naby aan die natuur geleef en het die buite lewe baie geniet, Haar pragtige tuin sê so baie van haar mooi hart.
Sy was skerp, intelligent, ‘n goeie verteller, kon lekker lag en gesels. Haar GROOT LAG, humorsin en meelewing met ander was een van haar uitstaande kenmerke. Ons sal haar styl, lekker kos, fyn aanvoeling en humor elke dag mis.
Piet vir jou wil ek sê jy het jou troubelofte gestand gedoen. “For Better or Worse” in “Goeie of Slegte” tye het jy haar getrou bygestaan. Persoonlik dink ek jy was ‘n nog beter man in slegte tye en daarvoor sal ek jou altyd eer. Sy was baie lief vir jou!
Daar was baie lag dae maar ook seer dae soos vandag. Ons kan jou nie meer sien en by ons hê nie, maar in ons harte leef jy vir altyd. Die klanke en egos van jou gees maak steeds musiek in ons ore. Intergriteit was die basis van jou geloof en menswees wat altyd gestalte gevind het in jou Christelike karakter.
So groet ons ‘n baie spesiale mens sonder woorde want harstseer woorde is stom. Jou stem is stil, jou groot lag is weg, dit was Sy wil, maar jou menswees en gees sal vir altyd in ons harte en skatkamers van ons siele gewortel bly.
Ek sluit af met die volgende gedagte.
‘n Spesiale vriendin is moeilik om te vind
Baie moeilik en hartseer om te verloor
Onmoontlik om te vergeet!
Ware vriende sal nooit skei nie al is hulle ook ver weg van mekaar
Maar sal vir altyd in jou hart bly
Rus in Vrede
Rose